Friday, 29 June 2007

Boekmerke vir jou verbeelding


Lucas Maree het op een van die ATKV se ligteliedjie werkskole 'n ding gesê oor kreatiwiteit wat my nou nog bybly. Ons het almal op 'n stappie gegaan rondom die oord (Klein-Kariba) en gaan stilsit by 'n plek wat jy uitkyk oor die dam. Na die uitstappie het hy gesê dat 'n mens mooi oomblikke soos die sit by die dam moet fotografeer in jou gedagtes, sodat jy later daarnatoe kan terugkom as jy inspirasie nodig het. Amper soos 'n boekmerk vir jou verbeelding as jy kreatief moet wees en alles om jou vaal is.

Ek het laasweek 'n boekmerk-oomblik gehad toe ek onverwags die laaste middag wat ek veronderstel was om nog te werk in Kaapstad, die middag kon afvat. Ek het per ongeluk oppad Blouberg toe op 'n klein strandjie in Milnerton afgekom met 'n Wang Thai restaurant letterlik op die strand. Te danke aan die tyd van die dag, half 3 op 'n Donderdag, was die beste seats in die plek oop - twee banke reg voor by die strand - en kon ek my rustig neerplak en sushi en Savanna saam met die seevoeëls eet :)

Daar het ek die helfte van 'n song sommer so in my kop geskryf. Die dilemma kom natuurlik altyd as mens die song nou probeer klaarmaak later en nie meer die view voor jou het nie. Gelukkig kon ek terugblaai na my boekmerk toe en dit klaarmaak.

My gevolgtrekking hieruit is dat ek dink mens moet doelbewus baie meer boekmerkoomblikke soos die vir jouself skep. Dan sal baie meer songs, skilderye en projekte nie net half bly rondlê soos murasies nie, maar actually klaargemaak word en weer vir iemand anders 'n boekmerk kan word.

No comments: